Willem Botha

Willem Botha

 

Jy het hom in 2006 leer ken tydens die Afrikaanse Idols-reeks op kykNET waar hy as naaswenner uit die stryd getree het en sedertien drie bekroonde albums en groot film-, teater- en TV-rolle agter sy naam het.

Willem Botha was ook die eerste Suid-Afrikaner wat aan die Eurovision Song Contest deelgeneem het vir die span van Belarus, wat dit tot in die finaal gemaak het. Meer as 100 miljoen kykers het die kompetisie se finaal gekyk in meer as 44 lande. Hy het ook reeds optredes in onder meer België, Nederland, Luxemborg, Swede en Dubai op sy kerfstok. Hy is gek oor alle fasette van die vermaaklikheidsbedryf – sing, dans, toneelspeel, aanbieder wees en selfs agter die kamera.

Liefling, Die Movie en later Pretville was sy silwerskerm verskynings, terwyl in die teater hy te sien was in Deon Opperman se Tree Aan! en Reik Na Die Sterre ook meer onlangs in Alles In My Drome, waar hy die hoofrol vertolk het. Hy het ook kom kuier op die kassie in jou huis met Donkerland en begin 2016 in Sterlopers op kykNET verskyn. Jy kan hom ook weeksdae op kykNET NOU! geniet as een van die aanbieders van die opwindende nuwe kletsprogram,chatNOU! Sy musiek is steeds sy hooffokus en met Huisgenoot Tempo en SAMA-nominasies agter sy naam, sien ons baie uit na die splinternuwe album wat vrygestel word einde Maart hierdie jaar!

Willem Botha vertel oor sy opgewondenheid oor die toer:

“Ek is baie gelukkig om die afgelope 11 jaar van die lekkerste toere in my lewe te gehad het. Om Desember-maande om die kus te toer en wintersmaande die land plat te reis. As ek toer is ek op my gelukkigste.  Om te toer is nie speletjies nie. Dis min slaap, baie sing en omtrent die heeltyd op die pad wees.  Maar om Namibië te besoek is altyd vir my ‘n hoogtepunt! Die land is pragtig en die mense is altyd baie vriendelik! En om te hoor hoe hulle woord vir woord saam jou sing en na die shows in rye staan net om n foto/selfie saam jou te neem, is seker een van die nederigste en lekkerste ervarings. Ek en Pieter is baie goeie vriende en het in 2016 met die eerste Jukebox-skoletoer dit baie geniet om saam op te tree. Toe die geleentheid hom voordoen om vir ‘n tweede keer te toer, het ek dadelik ingestem.  Ek sien so uit om tussen Keetmanshoop en Windhoek in die verskillende dorpe op te tree.  So as ek ’n wenk kan gee, maak seker jou foon is vol gelaai, jou stem is opgewarm en jou smile is aan, want ons gaan LEKKER musiek maak in jou dorp! Sien jou daar!”