Pieter Koen

Pieter Koen

 

Elke Saterdag kan jy saam met Pieter Koen op Jukebox kuier, en sommer party Woensdae ook op Kwêla, en nóú kan jy hom ook op toer sien.

Met ATKV en Huisgenoot Tempo-toekennings op sy kerfstok vir sy aanbieding, weet Pieter Koen hoe om gehore te vermaak. Maar musiek is steeds Pieter se eerste liefde en hy toer die land plat met sy nuutste album, Kan Nie Vra Vir Meer.

Boobs Boude Bene wat die eerste enkelsnit was en een van 2016 se grootste partytjieliedjies, het trefferparades landswyd geklim en die nuutste enkelsnit ‘n Man Kan Ook Huil wys sy dieper kant en is ook as Overvaalstereo se Inspirasie Liedjie van die Jaar aangewys.

Hy is gereed om die nuwe liedjies vanaf sy album sowel as sy grootste treffers met die vriendelike mense van Namibië te kom deel en hier is wat hy te sê het oor die toer:

 

“Ek kan nie aan ’n beter manier dink om die nuwe jaar af te skop as ’n ordentlike kuier wat strek van Keetmanshoop na Walvisbaai en dan van Grootfontein terug na Windhoek. Kyk Pappie! Ons gaan die dinge aan die brand kuier en sing. Wat vir my baie lekker is, is dat ek dit nie alleen doen nie, maar saam met ’n baie goeie vriend van my – Willem Botha, wat bekend is op beide die verhoog en die kassie. Ek sien uit om saam met hom in stereo op te breek, daai biscuit te skud en soos manne van staal hierdie toer aan te pak nie. Ons maak reg vir ‘n lekker partytjie sommer vroeg in die jaar – so maak seker dat jy saam kom kuier. Ons sien julle eersdaags in ’n dorp naby jou! Sien julle daar!”