Kersfees Extravaganza vir ’n goeie doel

Kersfees Extravaganza vir ’n goeie doel

Kersfees Extravaganza is om die draai en ons het met Stars in SA se produksie koördineerder, Llewellyn du Plessis gesels oor dié produksie, wat eersdaags opgevoer word in ’n dorp of stad naby jóú!

Du Plessis vertel dat Stars in SA altyd beoog om innoverende produksies te vervaardig vir die Suid-Afrikaanse mark. Hulle het marknavorsing gedoen en gevind dat Suid-Afrika ‘n tekort aan unieke Kersproduksies het, waar al die land se voorste kunstenaars op een verhoog verskyn om kersliedere te sing en van hul gunsteling treffers op te voer.

“Kersfees is ’n baie spesiale tyd van die jaar. Dit is ’n tyd om iets terug te gee aan die gemeenskap. Ons het kragte saam gespan met Die Burger Kersfonds en skenk ook ’n gedeelte van die wins aan hierdie merkwaardige organisasie. Hiermee gee ons iets terug aan daardie Suid Afrikaners wat nie altyd Kersfees behoorlik kan ervaar nie.” brei hy uit.

Du Plessis is verantwoordelik vir al die logistieke reëlings van dié toer, asook die bestuur daarvan. Hy en Hugo Foets, mede-eienaar van Stars in SA, hanteer alle reëlings van die beplanningsfase tot en met die vertoning en kan só verseker dat die vertonings altyd van wêreldklas gehalte is.

Die hele konsep van Kersfees Extravaganza is gebaseer op familie en hoe hulle hierdie tyd saam kan geniet. Die vertoning is so ontwerp dat daar letterlik iets vir almal is. Jonk en oud kan lekker saam sing. Die span werk baie hard om hierdie produksie onvergeetlik te maak en beloof om jou wildste verwagtige te oortref! Dié vertoning gaan vol energie wees, maar sal ook sorg vir die mooiste ballades en Kersliedere.

Dit is deesdae baie duur om ’n vertoning te gaan kyk as ’n gesin, daarom het die Stars in SA span besluit om fantastiese familie pakkette beskikbaar te stel. Hulle wil graag hê die hele gesin moet lekker saam sing en kuier. “Dit gebeur nie elke dag dat tien van Suid-Afrika se top kunstenaars een verhoog deel nie en ek weet die duette gaan mense se asems wegslaan” vertel Du Plessis opgewonde!

“Dit is belangrik om hierdie tyd van die jaar saam met jou geliefdes te vier”, plaas Du Plessis klem op die belangrikheid van die feesseisoen. “Ek het reeds as kind die land plat getoer saam met my ouers wat ook in die vermaaklikheidswêreld werk en dus het ons meestal Kersfees agter die verhoog gevier op ’n klein dorpie iewers in Suid-Afrika. Dit het verseker dat elke Kersfees besonders was.” brei hy uit!

Hy is baie opgewonde om hierdie landswye toer aan te pak, omdat daar vir die eerste keer in Suid-Afrika ’n Kersproduksie vertoon gaan word, wat oop is vir die hele land.

Du Plessis wil nie nóú al die aap uit die mou laat nie, maar sê dat konsertgangers uit kan sien na van die kunstenaars se grootste treffers, bekende kersliedere én ’n hele paar verrassings.